Pretoria, Gauteng – 16 Februarie 2026
ENSŌ Akademie het op Maandag, 16 Februarie 2026, sy amptelike opening gevier tydens ’n betekenisvolle geleentheid op die skoolterrein in die Noorde van Pretoria. Ouers, leerders, personeel, verteenwoordigers van Die MOS Inisiatief en ander belangrike rolspelers het saamgekom om die begin van hierdie nuwe Afrikaanse hoërskool te vier.
Die aand is deur die skoolhoof, Lerina van Rensburg, geopen. Sy het ENSŌ Akademie beskryf as meer as net ’n skool:
“ENSŌ beteken ’n sirkel — ’n simbool van groei, samehang en die aanvaarding van onvolmaaktheid. Dit is presies wat ons hier wil bou: ’n plek waar elke leerder kan groei, behoort en hul eie stem kan vind.”
Die uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief, Roedolf van der Westhuizen, het die geskiedenis, visie en mandaat van die MOS-leerstelsel beklemtoon:
“Vandag vier ons nie net ’n nuwe gebou of ’n nuwe naam nie. Ons vier ’n droom wat gegroei het, hande wat gebou het, en harte wat geglo het. Met die vestiging van ENSŌ Akademie gee ons praktiese gestalte aan ons mandaat: ’n volhoubare pyplyn van Afrikaanse skole wat mekaar voed, versterk en uitbou.”
Hy het verder gesê:
“Ons bou nie net ’n skool nie — ons bou ’n storie. Hierdie opening is die eerste tree in die regte rigting. Ons kies om koers te bepaal — met visie, moed en geloof — sodat toekomstige generasies veilig en sterk kan vaar. Mag hierdie skool ’n plek wees waar kennis met karakter verbind word, waar akademiese prestasie hand aan hand gaan met deernis, en waar jongmense gevorm word tot beginselvaste leiers.”
’n Hoogtepunt van die aand was die toespraak deur dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en Die MOS Inisiatief. Hy het die breër konteks van Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika geskets en die noodsaaklikheid van nuwe Afrikaanse skole beklemtoon.
“Die probleem met Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika is dat daar al hoe minder skole is wat Afrikaans as onderrigtaal aanbied. Die platteland loop leeg weens verstedeliking; skole word eers dubbelmedium en verengels dan heeltemal. Alhoewel daar uitstekende Afrikaanse skole in stede soos Pretoria, Stellenbosch, die Paarl, George en Mosselbaai is, word daar eenvoudig nie nuwe Afrikaanse skole gebou nie. Skole wat vir ’n sekere hoeveelheid leerders ontwerp is, bars uit hul nate.”
Hy het verder daarop gewys dat die behoefte aan nuwe, doelgerigte Afrikaanse skole dringender as ooit is:
“Die regering bou skole, maar nie Afrikaanse skole nie. Daarom moet gemeenskappe self verantwoordelikheid neem om volhoubare oplossings te skep.”
In ’n beeldende verwysing na die rolprent Field of Dreams met Kevin Costner in die hoofrol, het dr. Eloff gesê:
“In die film bou die hoofkarakter ’n bofbalveld in ’n mielieland, ten spyte van mense wat hom bevraagteken. Sy eenvoudige oortuiging was: ‘If you build it, they will come.’ Met ENSŌ Akademie glo ons ook: as daar ’n skool is, sal die leerders kom.”
Die program van die aand het musiek sentraal gestel in die viering van ENSŌ Akademie se storie. Die eerste uitvoering van die skoollied was ’n emosionele hoogtepunt wat die skool se waardes en visie vasgevang het. Verder is uitvoerings van bekende Afrikaanse liedjies soos As Musiek Begin Speel en My Land aangebied, wat die temas van hoop, identiteit en samehorigheid versterk het.
ENSŌ Akademie is gebou op die beginsels van die MOS-leerstelsel, wat fokus op leerdergesentreerde onderrig en die ontwikkeling van kernvaardighede soos kreatiwiteit, samewerking en kritiese denke. Die leuse van die skool, “Droom Groot • Dink Anders • Bou Saam”, het deurlopend deur die aand se program weerklink.
’n Hoogtepunt van die geleentheid was die simboliese opening van die skool deur middel van ’n handtekeningseremonie en seremoniële koeksny — ’n kreatiewe alternatief tot die tradisionele lintknip — wat die begin van ENSŌ Akademie se reis op ’n unieke en betekenisvolle manier vasgevang het. Die aand het ook erkenning gegee aan die span en gemeenskap wat hierdie droom help bou het, insluitend die MOS-leierskap, personeel, ouers en vennote.
ENSŌ Akademie posisioneer homself as ’n innoverende Afrikaanse hoërskool wat nie net fokus op akademiese prestasie nie, maar op die ontwikkeling van die leerder in geheel — karakter, kreatiwiteit en roeping. Die skool het reeds momentum begin bou en sien met groot opgewondenheid uit na die toekoms.
Vir meer inligting:
www.ensoakademie.co.za
083 788 4241
hoof@ensoakademie.co.za