ENSŌ Akademie se onlangse Opedag was ‘n besondere viering van alles waarvoor die skool staan – gemeenskap, kreatiwiteit, ontdekking en die moed om anders te dink.
Van die oomblik wat besoekers opgedaag het, was die positiewe gees tussen leerders, ouers, personeel en buitemuurse afrigters duidelik sigbaar. Elke gesin is hartlik verwelkom met die geur van springmielies, ‘n koppie koffie, ‘n koeldrank of water voordat die avontuur begin het.
Die dag is op ‘n unieke en interaktiewe manier afgeskop. Beide ouers en leerders het in die saal bymekaargekom waar hulle hul eerste uitdaging ontvang het – ‘n raaisel wat opgelos moes word om die volgende leidraad te ontdek. Die antwoord het hulle na ontvangs gelei, waar gesinne saam ‘n legkaart moes voltooi. Die legkaart het die groep vervolgens in twee verdeel: die leerders het na die musieksentrum vertrek, terwyl die ouers teruggekeer het na die saal.
Terwyl die ouers die geleentheid gehad het om saam met die hoof van ENSŌ Akademie te gesels, vrae te vra en meer oor die visie en unieke benadering van die skool te hoor, het die leerders die terrein deur middel van ‘n opwindende skattejag verken.
Die skattejag het hulle blootgestel aan verskeie aspekte van die ENSŌ-ervaring. Aktiwiteite het musiek, dans, drama, entrepreneurskap, boks, probleemoplossing en natuurlik baie geleenthede vir speel en ontdekking ingesluit. By elke stasie het die leerders nie net nuwe vaardighede en aktiwiteite leer ken nie, maar ook iets beleef van ENSŌ se kernwaardes: Droom Groot, Dink Anders en Bou Saam.
Nadat die leerders al die uitdagings voltooi en die laaste leidrade gevolg het, het daar nog ’n verrassing op hulle gewag. Elke leerder het ’n spesiale ENSŌ-geskenkpakkie ontvang met ’n paar lekker bederfies en ’n ENSŌ-pen. Die pen simboliseer iets van ENSŌ se hart – dat elke leerder se reis nog besig is om ontvou en dat hulle die geleentheid het om hul eie storie, drome en toekoms neer te skryf. Dit was ’n klein gebaar om hulle te bedank vir hul deelname en om hulle te herinner dat die avontuur van ontdekking eintlik nou eers begin.
Een van die grootste hoogtepunte van die dag was die ongelooflike energie en entoesiasme waarmee almal deelgeneem het. Daar is baie gelag, nuwe vriendskappe is gevorm en gesinne het saam uitdagings aangepak. Die dag het op ‘n natuurlike manier gewys dat leer nie beperk is tot handboeke en klaskamers nie, maar dat dit ook gebeur deur ervaring, kreatiwiteit, samewerking en ontdekking.
ENSŌ Akademie wil graag elke ouer, leerder, personeellid en buitemuurse afrigter bedank wat gehelp het om die dag so suksesvol te maak. Dit was ‘n voorreg om soveel wonderlike gesinne te ontmoet en iets van die hart van ENSŌ Akademie met hulle te deel.
Ons sien uit daarna om hierdie reis saam voort te sit en nog vele geleenthede te skep waar jongmense kan ontdek wie hulle is, hul unieke talente kan ontwikkel en met selfvertroue hul plek in die wêreld kan inneem.
Droom Groot • Dink Anders • Bou Saam 🌿